Lees gedigte

My Lied

Dagbreek en skemer
kom lewer Jan Frederik
luidkeels sy getuienis
lied van die Lewe
lied van die see:

van venusoortjies
en babatoontjies
en feetjiekasteeltjies
en pêrel perlemoentjies
en groen pampoentjies.


Grysvaal opdrifsels
van vernietiging en stryd
pyn, verlatenheid, depressie of dood
Jan Frederik kom
elke oggend, elke aand,

sing van venusoortjies
en babatoontjies
en feetjiekasteeltjies
en pêrel perlemoentjies

en groen pampoentjies.

Okerlyn

Die voëls sing hul aandlied
as ek die hoogte betree
en op die gesigeinder die okerlyn meet:
laaste skynsel van die vergange dag,
‘n lyn van vrede in my gemoed,
wees gegroet.

Soos die dag sal ek ook sterf;
in die speelspasie
tussen aardse en geestelike
my boom
wat uitbreek uit die donker grond
om hemelwaarts te stoot
swart en knobbelrig van
baie pyn
en du teen die vloei,
om uiteindelik te leer
met die Heilige Wind te gaan;
oorspan die Skepping
en stort saad
vir ‘n nuwe dag.

Resep

Neem een koppie tyd
die afoor koppie met blou blommetjies
voeg daarby: een bevrugde saadjie
genoeg pyn om dit oop te breek
liefde na smaak
'n knypie genade.
Meng dit alles goed saam.
Bak vir dertig minute
op die middelste rak in 'n matige oond
tot goudbruin.
Lewer een lewe.

My genade
is vir jou genoeg.


Mosmosaïek

Skurwe bont boomstam
vol mosse en voëlent
patrone
flikker op en gloei in neongroene,
kry lewe in die klammigheid
of kwyn sag
en wag en wag ...
tot die eerste straaltjie reënwater
weer afkruip teen die stam.

En as mens baie, baie mooi kyk
uit die hoek van jou oog
dan sien jy die sagte roer
van die mosfeetjie soos mis
dartel en gly met die wind
met die Lewe en pyn, wonde
met die mooi en speel, verwondering
en weef sy daarmee
die groenbont mosmosaïek van leef.

‘n Duif in die Puntboom

Ek kan hom van ver sien sit die duif
vanwaar hy nou-nou weer
sal inklim teen die stroom
sirkel tot hoër, spits en sidder
tot uiterste gestrek van punt tot punt
stol, een asemlose oomblik, hang
dan kantel met oorgawe in die spiraal
navigeer op die wind met volmaakte balans
sweefgly om en om
tot sy spel opbreek
hy hom met swiepend gebaar
terugwend na die puntboom
vanwaar hy rondborstig wêreldwyd
sy volheid in sang verhaal.

See

Bessiebos

Ryp oranjerooi vruggies tros nou
en groenblou wasigheid in die verte
laaste vrugte voor die stroping
droë droomwarm dae,
bessies
en onverstaanbare bos van God.

Sy
glimlag met my
sy sien my honger
en plaas bessies dáár,
daar waar ek droom, heel en soet.
Ek ontdek dit, ek en die tiptolle
trossies rooi bessies
om leegheid te stil
kwetter en fladder en lag en lag
laaste vrugte van die seisoen.

Die Bad

Sy laat haar sagkens oor die wit rand gly
in die soelwarm dieptes van die water in.
Eers was die lae een-een afgeskil
laat gaan,
die bad berei
met diep versugting na die reiniging
van alle patriargale smette.

Die kersvlam flakker
oor knobbels en klam holtes
wat onelegant verdwyn
onder die nuwe rimpelings,
om saggeweek, verskoon
weer teruggevind te word
in sagte voue ontvang, omhels.

Stilte

Stilte
oop vierkant
wilde energie borrel
dansplek van die argetipes.
Ek sonder my af: op soek na God.
Alleen in die berg, hoor ek die wind
Lammergeier sweef in sirkels bo.
In sy nuuskierige blik
vind ek my eie plek,
tot nederigheid
verstom.

Berg

Ek wil u dank
dat ek vir ‘n kortstondige oomblik
mog sit by u wyse voete
van oker en wynrooi klei
waarmee kunstenaars van die lewe
heilige oomblikke kon verhaal
oor duisende jare heen.

Ek wil u dank
dat ek mog drink
van u helder laggende strome
in mossagte koele klowe
waar water en klip
saam verweef is
met die vele wortels
van plant en dier en mens.

Ek wil u dank
dat ek u binne my mag dra
u rotsige ewige pieke
ontembaar hoog en vry
bo wolk en wind en skadu,
hier waar ek daagliks my weg moet gaan.

Visse

Vyf visse swem stroomop in die Rivier
– net ‘n dooie vis swem met die stroom –
spelend in golwe van waarheid
grypend na hul droom.

Ego en Skadu ontmoet
goue Bewusword
verander jou lot se lyne, vernu
roep Wedergeboorte en Dieper Deernis
wat ryp word en vol met die tyd:
leef chaos en harmonie
onrus en vrede
lyding en vreugde
‘n heilige Jobberg
vanwaar
die Groot Rivier nogmaals stort
en die water al skoner word.

Ritme 

Die jaarringe kring al wyer uit
in duntye en vol,
in dood en vernuwing
gly dit ritmies deur die donker Poel.
Die vuur, die water
die stilte, die dans
die polsslag, die hartstog
in lig, in skadu
du dit my voort;
die trom wat my voete voer
duiselend, dansend
deur die wonders van die jare.

Gemerk, ge-eien is my siel
sein ek my wese in daaglikse deinings
tot op my sterfbed
die volle blom van my lewe,
waar ek sal vra, waar U sal weeg:
is ek U waardig,
o Trom van die Poel?

Somer

Die somer van die bokmakierie
sal vir lank nog by my bly;
die daglang soeke na sy maat
bokmakierie voor my venster
bokmakierie op my muur.

'n Tyd van skreiende hitte
dae versmelt in 'n spierwit gloed
en wind
en droër droogte;
mossies se luider voller lied
in nugter vroeë oggenduur,
die somer toe alles so tot rypword kom
en bitter wonde oopgebars
spuit hemelhoog
met die droë hittegloed
totdat ek in die skadu rondtas
smagtend na druppels lafenis
vind ek haar in stilte,
sy wag nog altyd
en soet sing die helder besef
dat sy ook ryp en vol geword het.

Nagloop

'n Skrefie maan beloer my deur die wolke
en weerlig flets na die noorde.
Die nag blink donker in die hoër donker bome
waartussen straatligte geheimsinnig glim.
Swaar geure sweef sag omheen,
o soet is die siel van die nag!

Geleidelik dring die nagklanke nader en sing
dwing uit hul skuilplek die donker se lewe.
Nagmense dans, elke skadu kry lewe
neem óp die verhoog van die straat
deur die rustende ego verlaat.

My mond gaap oop, my oë staar
my asem stol - watter vreemde spel!
Teen die lamppaal leun 'n vrou besitlik
nog ander word gebore uit die donker se hoeke
en ontmoet doodluiters absurd midde die straat
'n kompleks of 'n drama, toevallig, wie weet?
Dis duidelik dat ander reëls hier meet.

Wyl ek snags niksvermoedend, beskermd omdraai in my bed
gebeur vreemde dinge in die donkerte die natuur se wet.
Dan speel ek weer my wakker rol
en dink verwaand : dis ek!

Brief met Borrels

Ek skryf aan jou
'n brief met borrels
van mosse en voëls
van bome, van gras;
van sonne en mane en jaargetye;
van volheid, van leegheid
van lewe en dood.

Ek stuur aan jou 'n waterbrief
met borrels wat asem van onder die see;
borrels van donker
borrels van lig
deur die laaste sif gesif

Sy stuur aan my
‘n brief met borrels
wat kielie teen my neus verby
borrels vol lewe
borrels vol liefde
wat nat-nat teen my wang af gly.