My lied Dagbreek en skemer kom lewer Jan Frederik luidkeels sy getuienis lied van die Lewe lied van die see: van venusoortjies en babatoontjies en feetjiekasteeltjies en pêrel perlemoentjies en groen pampoentjies. Grysvaal opdrifsels van vernietiging en stryd pyn, verlatenheid, depressie of dood Jan Frederik kom elke oggend, elke aand, sing van venusoortjies en babatoontjies en feetjiekasteeltjies en pêrel perlemoentjies en groen pampoentjies.
Brief met Borrels
Ek skryf aan jou
'n brief met borrels
van mosse en voëls
van bome, van gras;
van sonne en mane en jaargetye;
van volheid, van leegheid
van lewe en dood.
Ek stuur aan jou 'n waterbrief
met borrels wat asem van onder die see;
borrels van donker
borrels van lig
deur die laaste sif gesif
Sy stuur aan my
‘n brief met borrels
wat kielie teen my neus verby
borrels vol lewe
borrels vol liefde
wat nat-nat teen my wang af gly.
Die bad Sy laat haar sagkens oor die wit rand gly in die soelwarm dieptes van die water in. Eers was die lae een-een afgeskil laat gaan, die bad berei met diep versugting na die reiniging van alle patriargale smette. Die kersvlam flakker oor knobbels en klam holtes wat onelegant verdwyn onder die nuwe rimpelings, om saggeweek, verskoon weer teruggevind te word in sagte voue ontvang, omhels.
Somer Die somer van die bokmakierie sal vir lank nog by my bly; die daglang soeke na sy maat bokmakierie voor my venster bokmakierie op my muur. 'n Tyd van skreiende hitte dae versmelt in 'n spierwit gloed en wind en droër droogte; mossies se luider voller lied in nugter vroeë oggenduur, die somer toe alles so tot rypword kom en bitter wonde oopgebars spuit hemelhoog met die droë hittegloed totdat ek in die skadu rondtas smagtend na druppels lafenis vind ek haar in stilte, sy wag nog altyd en soet sing die helder besef dat sy ook ryp en vol geword het.
Stilte Stilte oop vierkant wilde energie borrel dansplek van die argetipes. Ek sonder my af: op soek na God. Alleen in die berg, hoor ek die wind Lammergeier sweef in sirkels bo. In sy nuuskierige blik vind ek my eie plek, tot nederigheid verstom.
Resep Neem een koppie tyd die afoor koppie met blou blommetjies voeg daarby: een bevrugde saadjie genoeg pyn om dit oop te breek liefde na smaak 'n knypie genade. Meng dit alles goed saam. Bak vir dertig minute op die middelste rak in 'n matige oond tot goudbruin. Lewer een lewe. My genade is vir jou genoeg.
Ritme Die jaarringe kring al wyer uit in duntye en vol, in dood en vernuwing gly dit ritmies deur die donker Poel. Die vuur, die water die stilte, die dans die polsslag, die hartstog in lig, in skadu du dit my voort; die trom wat my voete voer duiselend, dansend deur die wonders van die jare. Gemerk, ge-eien is my siel sein ek my wese in daaglikse deinings tot op my sterfbed die volle blom van my lewe, waar ek sal vra, waar U sal weeg: is ek U waardig, o Trom van die Poel?
Okerlyn Die voëls sing hul aandlied as ek die hoogte betree en op die gesigeinder die okerlyn meet: laaste skynsel van die vergange dag, ‘n lyn van vrede in my gemoed, wees gegroet. Soos die dag sal ek ook sterf; in die speelspasie tussen aardse en geestelike my boom wat uitbreek uit die donker grond om hemelwaarts te stoot swart en knobbelrig van baie pyn en du teen die vloei, om uiteindelik te leer met die Heilige Wind te gaan; oorspan die Skepping en stort saad vir ‘n nuwe dag.
Berg Ek wil u dank dat ek vir 'n kortstondige oomblik mog sit by u wyse voete van oker en wynrooi klei waarmee kunstenaars van die lewe heilige oomblikke kon verhaal oor duisende jare heen. Ek wil u dank dat ek mog drink van u helder laggende strome in mossagte koele klowe waar water en klip saam verweef is met die vele wortels van plant en dier en mens. Ek wil u dank dat ek u binne my mag dra u rotsige ewige pieke ontembaar hoog en vry bo wolk en wind en skadu, hier waar ek daagliks my weg moet gaan.
Nagloop 'n Skrefie maan beloer my deur die wolke en weerlig flets na die noorde. Die nag blink donker in die hoër donker bome waartussen straatligte geheimsinnig glim. Swaar geure sweef sag omheen, o soet is die siel van die nag! Geleidelik dring die nagklanke nader en sing dwing uit hul skuilplek die donker se lewe. Nagmense dans, elke skadu kry lewe neem óp die verhoog van die straat deur die rustende ego verlaat. My mond gaap oop, my oë staar my asem stol - watter vreemde spel! Teen die lamppaal leun 'n vrou besitlik nog ander word gebore uit die donker se hoeke en ontmoet doodluiters absurd midde die straat 'n kompleks of 'n drama, toevallig, wie weet? Dis duidelik dat ander reëls hier meet. Wyl ek snags niksvermoedend, beskermd omdraai in my bed gebeur vreemde dinge in die donkerte die natuur se wet. Dan speel ek weer my wakker rol en dink verwaand : dis ek!
Mosmosaïek Skurwe bont boomstam vol mosse en voëlent patrone flikker op en gloei in neongroene, kry lewe in die klammigheid of kwyn sag en wag en wag ... tot die eerste straaltjie reënwater weer afkruip teen die stam. En as mens baie, baie mooi kyk uit die hoek van jou oog dan sien jy die sagte roer van die mosfeetjie soos mis dartel en gly met die wind met die Lewe en pyn, wonde met die mooi en speel, verwondering en weef sy daarmee die groenbont mosmosaïek van leef.
Visse Vyf visse swem stroomop in die Rivier - net 'n dooie vis swem met die stroom - spelend in golwe van waarheid grypend na hul droom. Ego en Skadu ontmoet goue Bewusword verander jou lot se lyne, vernu roep Wedergeboorte en Dieper Deernis wat ryp word en vol met die tyd: leef chaos en harmonie onrus en vrede lyding en vreugde 'n heilige Jobberg vanwaar die Groot Rivier nogmaals stort en die water al skoner word.
Brief met Borrels Ek skryf aan jou 'n brief met borrels van mosse en voëls van bome, van gras; van sonne en mane en jaargetye; van volheid, van leegheid van lewe en dood. Ek stuur aan jou 'n waterbrief met borrels wat asem van onder die see; borrels van donker borrels van lig deur die laaste sif gesif Sy stuur aan my ‘n brief met borrels wat kielie teen my neus verby borrels vol lewe borrels vol liefde wat nat-nat teen my wang af gly.
‘n Duif in die Puntboom Ek kan hom van ver sien sit die duif vanwaar hy nou-nou weer sal inklim teen die stroom sirkel tot hoër, spits en sidder tot uiterste gestrek van punt tot punt stol, een asemlose oomblik, hang dan kantel met oorgawe in die spiraal navigeer op die wind met volmaakte balans sweefgly om en om tot sy spel opbreek hy hom met swiepend gebaar terugwend na die puntboom vanwaar hy rondborstig wêreldwyd sy volheid in sang verhaal.